Tag Archives: macaroni-en-kaas

die beste macaroni-en-kaas gevind

die beste macaroni-en-kaas gevind
Derde plek: Jamie Oliver se macaroni-en-kaas

Derde plek: Jamie Oliver se macaroni-en-kaas

Macaroni-en-kaas is een van die verleidelikste trooskosse en in dié gereg gebruik jy nie jou spoggerige tuisgemaakte pasta of gesonde heelgraan pasta nie. Nee, jy koop ʼn pakkie macaroni, ʼn pakkie cheddar, ʼn bakkie room en spek, en jy maak dit sonder om aan die kaloriewaarde van die gereg te dink. Maar watter macaroni-en-kaas resep is die lekkerste? Na ʼn paar weke van soek, proe en vra som Stephanie Bourgeois van Food52.com dit die beste op: “Looking for the perfect mac and cheese can feel a bit like the quest for the Holy Grail.” Na wat soos ‘n Indiana Jones kos-advontuur en macaroni-en-kaas skattejag gevoel het, het ek het tog drie gunstelinge en ʼn wenner raak geproe!

En die wenner is…Heston Blumenthal se macaroni-en-kaas
Die gereg het my heeltemal in vervoering gehad en my heen en weer laat wieg (met ʼn groot glimlag op my gesig) op die maat van die mees perfek gebalanseerde sout, suur en umami smake. Vat ʼn paar happies, maak jou oë toe en proe jou weg deur die smaak-simfonie. Die eerste kos-note word deur die suurige-wyn-smaak gespeel, dan kom die soutige parmesaan-viool by, saggies in die agtergrond proe jy die macaroni-tjello raak en dan ʼn stadige truffel–umami-crescendo wat ʼn perfekte lang noot in die finale speel. Dit verdien ʼn staande toejuiging. Bravo!

Eerste plek: Heston Blumenthal se macaroni-en-kaas

Eerste plek: Heston Blumenthal se macaroni-en-kaas


In die tweede plek: Kook en Geniet se macaroni-en-kaas
Ek het groot geword met Kook en Geniet se macaroni-en-kaas met ʼn eier-en-melk in plaas van ʼn kaassous basis. Dit word sonder spek, sampioene of room gemaak en ma het dit altyd tong-skroeiend warm met ʼn groot bottel All Gold tamatiesous bedien. Ja, dit was nog die goeie ou dae toe ons nie skaam was vir bottels op die tafel nie!
Resultaat: Dit is my kinder-hartskos-trooskos en ek dink dit is heerlik. Daarom kry dit saam met my meer innoverende tamatiesous ʼn welverdiende tweede plek.
Tweede plek:  Kook en Geniet se macaroni-en-kaas

Tweede plek: Kook en Geniet se macaroni-en-kaas

In die derde plek: Jamie Oliver se macaroni-en-kaas
Jamie se macaroni-en-kaas is baie interessant en kry tamaties, lourierblare en tien knoffelhuisies in die kaassous. Ek het geskrik vir al die knoffel en het net ses gebruik, maar ek dink tog jy moet nie ʼn bangbroek soos ek wees nie en al tien insit. Al wat ek sal verander om dit meer romerig te maak is om die pasta met 100 g te verminder tot 500 g.
Resultaat: ʼn Baie geurige en bevredigende macaroni-en-kaas met ʼn unieke lourierblaar geur.

Wat sê die kookboek outeure?
Alida Ryder: Ek maak dit soos my ma dit gemaak het met skywe tamatie en baie witpeper. Vir my man maak ek ʼn bier en spek macaroni-en-kaas – hy vrek daaroor!
Errieda du Toit: Ek is ook mal oor Jamie Oliver se macaroni-en-kaas, en nee, dit gee nie ʼn knoffel-hangover nie.
Sonia Cabano: Ek hou daarvan om drie soorte kaas in die sous te sit met ‘n lagie gaar, fyngekapte spinasie wat met neutmuskaat gegeur is.

Heston Blumenthal se macaroni-en-kaas
(Heston gee al die bestanddele in gramme aan)
20 g sout
200 g macaroni
15 g truffel-olie
300 g droë witwyn
300 g goeie hoenderaftreksel, warm
80 g parmesaan kaas, fyn gerasper en 20 g ekstra vir bak
10 g mielieblom
80 g roomkaas

Voorverhit die roosterelement. Kook 2 kg water, gooi die sout en pasta by en kook vir ongeveer 7 minute tot al dente. Gooi die truffel olie oor die pasta, roer deur en sit eenkant. Kook die witwyn in ʼn pot tot dit na 30 g verminder het. Voeg die hoenderaftreksel by en bring tot kookpunt. Meng die parmesaan met die mielieblom en roer by die hoenderaftreksel totdat dit ten volle geïnkorporeer en verdik het. Gooi nou die pasta by en kook vir ʼn minuut of twee totdat die pasta warm is. Roer die roomkaas by. Geur met sout. Skep in gesmeerde oondvaste bak, gooi die 20 g parmesaan oor en rooster tot bruin.

My variasie van Kook en Geniet se macaroni-en-kaas
Bedien: 6
1 liter melk
5 eiers
15 ml mosterdpoeier
5 ml sout
2.5 ml swart peper
750 ml cheddar kaas, gerasper
4 koppies macaroni, gekook
Tamatiesous
250 g tamaties, in blokkies gesny
15 ml olyfolie
80 ml water
5 ml suiker
250 ml All Gold tamatiesous
ʼn handvol vars basiliekruid, geskeur
Voorverhit die oond tot 160 °C . Klits die melk, eiers, mosterdpoeier, sout en peper saam. Voeg die kaas en gaar macaroni by. Skep in gesmeerde oondvaste bak en bak vir een uur tot gaar. Tamatiesous: Verhit die olyfolie en braai tamaties totdat die pan droog is. Voeg die water by en kook weer tot droog. Roer die suiker en tamatiesous in en laat dit een minuut kook. Laastens roer die basiliekruid by.

Jamie Oliver se macaroni-en-kaas
45 g botter
3 rondvol eetlepels meel
10 knoffelhuisies, fyn gesny
6 lourierblare, vars
1 liter melk
450g macaroni, gekook volgens die pakkie aanwysing
8 tamaties, rof opgesny in blokke
150 g cheddar kaas, gerasper
100 g parmesaan kaas, gerasper
ʼn paar vars tiemietakkies, blaartjies gepluk
‘n paar skote Worcestershire sous
2.5 ml neutmuskaat
sout
swart peper

Voorverhit die oond tot 220 °C. Smelt die botter in ʼn groot pot oor lae hitte. Voeg die meel by en roer tot ʼn gladde pasta. Verhoog die hitte tot medium en voeg die knoffel by. Roer aanhoudend totdat die knoffel goudkleurig en klewerig is. Gooi die lourierblare by en roer. Gooi nou die melk geleidelik by en roer voortdurend tot die sous dik en glad is. Laat dit vir ʼn paar minute kook terwyl jy aanhoudend roer. Skep die pasta by die witsous en verwyder van die hitte. Geur jou gekapte tamaties goed met sout en peper en voeg dit saam met die kaas en tiemie by die pasta mengsel. Geur nou met Worcestershire sous en neutmuskaat. Skep in gesmeerde oondvaste bak en bak vir 30 minute.

Comment on this Post